BEDRYFSOMSENDBRIEF SANTAM 26 Januarie 2015

Beurtkrag is weereens deel van ons daaglikse lewens en verskeie vrae word gevra of ons polishouers wel dekking het in terme van die polis en onder watter spesifieke afdeling of waar dekking bekom kan word. Hierdie dokument poog om hierdie vrae te beantwoord.
Ten einde die inligting gebruikersvriendelik te hou, sal die onderwerp bespreek word met verwysing na die dekking wat verskaf word in terme van die standaard Santam Kommersiële bewoording (voorheen bekend as MMIII).
Skade of verliese kan op die volgende wyses plaasvind:
a. Skade aan of verlies van elektriese en elektroniese toerusting en masjinerie as gevolg van kragstuwing of die skerp styging in krag wat veroorsaak word deur die aan- en afskakel van die elektrisiteitstoevoer;
b. Fisiese verlies van of skade aan handelsvoorraad as gevolg van die onderbreking van die elektrisiteitstoevoer (meestal ten opsigte van verkoelde voorraad);
c. Verlies van inkomste wat volg op die steuring of onderbreking van die besigheid as gevolg van die onderbreking in die elektrisiteitstoevoer.
1. BRAND AFDELING
1.1 Santam het die bewoording van die Brand afdeling uitgebrei om R50 000 se kragstuwing dekking in te sluit, wat vanaf 1 Maart 2013 op Landbou-polisse geld, vanaf 18 Mei 2013 op alle Kommersiële, Gastehuis- en Toerisme-polisse en dit sal effektief wees op alle Denti- en Mediplex-polisse vanaf die 1ste Januarie 2015.
1.2 Skade aan verkoelde voorraad as gevolg van ‘n onderbreking in kragtoevoer kan verseker word deur Klousules 2073 en 2074 op die polis by te voeg. In terme van Klousule 2073, verskaf Santam dekking vir die verlies van of skade aan verkoelde voorraad as gevolg van die algehele of gedeeltelike onderbreking van die openbare elektrisiteitstoevoer aan die versekerde perseel. Waar die elektrisiteitsvoorsiener slegs elektrisiteit weerhou, is dekking uitgesluit, tensy sodanige weerhouding veroorsaak word deur skade aan die diens. Bykomend hiertoe, is ‘n 24-uur vrywaring/vrystelling (franchise) van toepassing met betrekking tot meganiese, elektriese of elektroniese breekskade.
Klousule 2074 beperk dekking met betrekking tot die voorafgaande tot ‘n ooreengekome bedrag.
In die geval waar beurtkrag toegepas word as gevolg van onvoldoende kapasiteit by die elektrisiteitsopwekkingstasie, sal geen dekking in plek wees nie.
In gevalle waar die onderbreking ‘n direkte gevolg is van verlies of skade aan die eiendom van die elektrisiteitsopwekkingseenheid se eiendom en/of toerusting, sal dekkking toegestaan word, onderhewig aan ‘n 24-uur vrywaringstydperk. Sodra toevoer herstel is nadat die verlies plaasgevind het, sal die dekking verval.
Dit is ook belangrik om te let op die verwysing na ‘n openbare diens. Hierdie dekking is gevolglik nie beskikbaar met betrekking tot versekerdes wat hulle eie elektrisiteit opwek nie

1.3 Indien die kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand gedek wees in terme van hierdie afdeling.
2. GEBOUE OMVATTEND AFDELING
2.1 Santam het die bewoording van die Geboue Omvattend afdeling uitgebrei om R50 000 se kragstuwing dekking in te sluit, wat vanaf 1 Maart 2013 op Landbou-polisse geld, vanaf 18 Mei 2013 op alle Kommersiële, Gastehuis- en Toerisme-polisse en dit sal effektief wees op alle Denti- en Mediplex-polisse vanaf die 1ste Januarie 2015.
2.2 Indien die kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand gedek wees deur hierdie afdeling.

3. KANTOORINHOUD AFDELING
3.1 Santam het die bewoording van die Kantoorinhoud afdeling uitgebrei om   R50 000 se kragstuwing dekking in te sluit, wat vanaf 1 Maart 2013 op Landbou-polisse geld, vanaf 18 Mei 2013 op alle Kommersiële, Gastehuis- en Toerisme-polisse en dit sal effektief wees op alle Denti- en Mediplex-polisse vanaf die 1ste Januarie 2015.
3.2 Dit is Santam se onderskrywingsbeleid om elektroniese  dataverwerkings-toerusting in terme van die Elektroniese Toerusting afdeling te dek. Ons definieer dataverwerkingstoerusting as “elektroniese apparate vir prosessering en berekenings of beheerfunksies wat in numeriese of logiese terme uitgedruk word” soos rekenaars, skootrekenaars en soortgelyke toerusting.
3.3 Indien die kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand gedek wees in terme van hierdie afdeling.
4. SAKE-ONDERBREKING AFDELING
4.1 Sake-onderbreking volg die Brandgevaar waar kragstuwing nou ingesluit is (effektief vanaf 1 Januarie 2015 ten opsigte van die Denti- en Mediplex polisse).
4.2 Dekking word verskaf in terme van die volgende twee uitbreidings:
4.2.1 Openbare dienste – versekerde gevare alleenlik
4.2.2 Openbare dienste – uitgebreide dekking
Beide hierdie uitbreidings is opsioneel en moet spesifiek deur die versekerde of makelaar aangevra word. Elke individuele polis moet onderskryf word, maar ons stel die volgende tariewe voor as ‘n indikasie:
4.2.1.1 0.010%
4.2.1.2 0.020%
Natuurlik moet die tariewe belaai word vir okkupasies wat ‘n groter afhanklikheid het ten opsigte van elektrisiteitstoevoer, soos restaurante, rolprentteaters, teaters sowel as area’s waar beurtkrag meer dikwels kan voorkom.
4.2.1 Openbare dienste – versekerde gevrae alleenlik Verskaf dekking vir die onderbreking of steuring van besigheid as gevolg van fisiese skade aan die toerusting van kragstasies, sub-stasies en transmissienetwerke as
gevolg van ‘n gevaar soos gedefinieer in terme van die Brand afdeling.
4.2.2 Openbare dienste – uitgebreide dekking
Verskaf dekking vir die onderbreking of steuring van besigheid as gevolg van die totale of gedeeltelike onderbreking van die openbare elektrisiteitstoevoer aan die versekerde perseel.
Waar die elektrisiteitsvoorsieningsowerheid slegs elektrisiteit weerhou, is dekking uitgesluit, tensy sodanige weerhouding veroorsaak word deur skade aan die eiendom van sodanige owerheid. Bykomend hiertoe, is ‘n 24-uur vrywaringstydperk (franchise) van toepassing met betrekking tot meganiese, elektriese of elektroniese breekskade.
In die geval waar beurtkrag toegepas word as gevolg van onvoldoende kapasiteit by die elektrisiteitsopwekkingstasie, sal geen dekking in plek wees nie.
In gevalle waar die onderbreking ‘n direkte gevolg is van skade aan die eiendom en/of toerusting van die elektrisiteitopwekkingstasie, sal dekking in plek wees,
onderhewig aan die 24-uur vrywaringstydperk. Sodra toevoer herstel is nadat die verlies plaasgevind het, sal die dekking verval.
Dit is ook belangrik om te let op die verwysing na ‘n openbare diens. Hierdie dekking is gevolglik nie beskikbaar met betrekking tot versekerdes wat hulle eie
elektrisiteit opwek nie.
4.3 ‘n Verlaging in omset en verhoging in bedryfskoste sal gedek wees indien kragstuwing ‘n brand tot gevolg het soos spesifiek na verwys in 1.3; 2.2 en 3.3.
5. DIEFSTAL AFDELING
5.1 Polisse wat die installasie van ‘n alarm vereis, stipuleer dat sodanige alarm aangeskakel en in ‘n werkende toestand moet wees wanneer die versekerde persele nie bewoon word nie of gesluit is vir besigheid.
Santam onderneem om versekerdes skadeloos te stel in die geval waar stelsels nie werk nie as gevolg van beurtkrag. Die onderbreking in die elektrisiteit moet buite die beheer van die versekerde wees. Dieselfde beginsel sal geld in die geval waar die reaksiemag nie op die alarm se sein kon reageer nie, as gevolg van ‘n onderbreking in elektrisiteitstoevoer. Versekerdes moet egter seker maak dat alarms in ‘n werkende toestand is en onder normale omstandighede aangeskakel is.
5.2 Dit is belangrik om daarop te let dat die meeste huishoudelike en industriële alarmstelsels se bystandsbatterye vir ten minste 6 ure kan hou. Gevolglik moet polishouers seker maak dat hulle alarmstelsels se batterye gereeld getoets word sodat die maksimum beskerming deur die stelsel verskaf word.
6. GELD AFDELING
6.1 Versekerdes/polisse waar die alarmvereiste op die Geld afdeling van toepassing is, sal op dieselfde wyse soos in 5. Diefstal uiteengesit, hanteer word.

7. SAKE ALLE RISIKO AFDELING
7.1 Dekking word verskaf teen die verlies van of skade aan die versekerde eiendom ongeag die oorsaak. Kragstuwing is gevolglik gedek aangesien geen spesifieke uitsluiting van toepassing is nie.
8. TOEVALLIGE SKADE AFDELING
8.1 Toevallige fisiese verlies van of skade aan die versekerde eiendom wat nie andersins verseker is nie of waarvoor versekering nie beskikbaar is nie, is gedek. Die versekerde sal gevolglik nie dekking hê met betrekking tot skade aan
elektroniese toerusting wat deur kragstuwing veroorsaak word nie, aangesien dekking beskikbaar is in terme van die Elektroniese Toerusting afdeling.
Die enigste uitsondering op hierdie reël is die Alle Risiko afdeling. Items wat onder die Alle Risiko afdeling verseker kan word, kan ook verseker word in terme van die Toevallige Skade afdeling.
8.2 Dit is baie belangrik om te let op spesifieke uitsondering (a) wat betrekking het op hierdie afdeling:
“enige gevaar of omstandigheid wat uitgesluit is uit enige ander beskikbare versekering by die maatskappy ten tyde van die aanvang hiervan en ook nie vir enige bybetaling wat betaalbaar is deur die versekerde ingevolge sodanige versekering en ook nie vir enige vermindering in enige bedrag betaalbaar ingevolge enige eis te wyte aan die toepassing van eweredigheid nie;”
As kragstuwing dus op ‘n afdeling uitgesluit is, sal hierdie afdeling ook nie dekking bied teen verliese wat voortspruit uit sodanige kragstuwing nie.
8.3 Masjinerie en toerusting (uitgesluit elektroniese toerusting wat in terme van ‘n Elektroniese afdeling verseker is en masjinerie wat in terme van die Masjinerie Breekskade afdeling verseker is) wat in terme van die Brand afdeling verseker is, ter waarde van meer as R50 000, sal gevolglik gedek wees in terme van hierdie afdeling indien die skade deur kragstuwing veroorsaak is (nie as gevolg van weerlig nie).
9. ELEKTRONIESE TOERUSTING AFDELING
9.1 Elektroniese Toerusting is gedek teen enige gevaar tensy dit spesifiek uitgesluit is. Kragstuwing as gevolg van watter rede ook al is gevolglik gedek.
9.2 Dit is die maatskappy se onderskrywingsbeleid dat alle data en kraglyne/-kabels wat die perseel binnekom of verlaat, met stuwingsbrekers (“surge arrestors”) toegerus moet wees (soos bv. Clearline se produkte). Sodanige stuwingsbrekers verminder en verhoed skade aan elektroniese toerusting. Dit is daarom belangrik dat polishouers wel hulle toerusting met die nodige stuwings-brekers toerus.
10. HUISEIENAARS AFDELING
10.1 Hierdie afdeling verskaf geen dekking in terme van kragstuwing nie, tensy dit veroorsaak word deur ‘n versekerde gevaar soos weerlig of ‘n donderslag, of indien bykomende dekking uitgeneem is (sien 10.2).
10.2 Die volgende beperkte dekking is beskikbaar en is opsioneel (die versekerde moet die dekking kies en ‘n bykomende premie daarvoor betaal):
10.2.1 Toevallige skade aan masjinerie:
Die volgende dekking word verskaf: “Skielike en onverwagte skade aan masjinerie, wat vir huishoudelike doeleindes alleenlik gebruik word,
van swembaddens, jacuzzis, boorgate (uitgesluit windpompe), sprinkelbesproeiingstelsels, elektriese hekke en motorhuisdeure. Die masjinerie moet by die perseel van die versekerde geboue geïnstalleer wees.”
Gevolglik is daar dekking teen verliese as gevolg van kragstuwing, ongeag die oorsaak.
10.3 Indien die kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand deur hierdie afdeling gedek wees.
11. HUISBEWONERS AFDELING
11.1 Hierdie afdeling verskaf geen dekking in terme van kragstuwing nie, tensy dit veroorsaak word deur ‘n versekerde gevaar soos weerlig of ‘n donderslag, of indien bykomende dekking uitgeneem is (sien 11.2).
11.2 Die volgende beperkte dekking is opsioneel (die versekerde moet hierdie opsie kies en ‘n bykomende premie betaal):
11.2.1 Toevallige skade: Hierdie uitbreiding sal dekking verskaf teen ragstuwing, ongeag die oorsaak.
11.3 Algemene uitbreiding: Verlies van of skade aan die inhoud van yskaste en vrieskaste. Dekking word verskaf teen die toevallige bederwing van die inhoud van yskaste en vrieskaste, maar bederwing as gevolg daarvan dat enige owerheid die kragtoevoer opsetlik gesny het, is uitgesluit.
Gevalle waar die onderbreking voorkom as ‘n direkte gevolg van verlies of skade aan die elektrisiteitsopwekkingsowerheid se eiendom en/of toerusting, sal gedek wees.
11.4 Polisse wat die installasie van ‘n alarm vereis, stipuleer dat sodanige alarm aangeskakel en in ‘n werkende toestand moet wees wanneer die versekerde persele nie bewoon word nie of gesluit is vir besigheid.
Santam onderneem om versekerdes skadeloos te stel in die geval waar stelsels nie werk nie as gevolg van beurtkrag. Die onderbreking in die elektrisiteit moet buite die beheer van die versekerde wees. Dieselfde beginsel sal geld in die geval waar die reaksiemag nie op die alarm se sein kon reageer nie, as gevolg van ‘n onderbreking in elektrisiteitstoevoer. Versekerdes moet egter seker maak dat alarms in ‘n werkende toestand is en onder normale omstandighede aangeskakel is.
11.5 Dit is belangrik om daarop te let dat die meeste huishoudelike en industriële alarmstelsels se bystandsbatterye vir ten minste 6 ure kan hou. Gevolglik moet polishouers seker maak dat hulle alarmstelsels se batterye gereeld getoets word sodat die maksimum beskerming deur die stelsel verskaf word.
11.6 Indien die kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand in terme van hierdie afdeling gedek wees.
12. MASJINERIE BREEKSKADE AFDELING
12.1 Hierdie afdeling verskaf dekking vir kragstuwing tensy die kragstuwing direk deur weerlig veroorsaak is.
12.2 Indien kragstuwing ‘n brand tot gevolg het, sal die brand nie gedek wees in terme van hierdie afdeling nie; verwys na Spesifieke uitsluiting: “Die maatskappy sal nie aanspreeklik wees nie vir: (3) verlies of skade as gevolg van brand, direkte
weerlig…”
13. MASJINERIE BREEKSKADE SAKE-ONDERBREKING AFDELING
13.1 Indien ‘n versekerde skadeloos gestel word vir die verlies van of skade aan masjinerie wat in terme van die Masjinerie Breekskade afdeling verseker is, sal die verlaging in omset as gevolg van sodanige verlies of skade onder hierdie afdeling versekerbaar wees.
14. VERSLEGTING VAN VOORRAAD AFDELING
14.1 Dekking word slegs verskaf vir die verslegting van voorraad wat volg op skade aan masjinerie wat verseker is in terme van die Masjinerie Breekskade afdeling.
15. ALGEMEEN
15.1 Al hoe meer polishouers installeer kragopwekkers by hulle persele ten einde die impak van beurtkrag teen te werk. Alle sodanige installasies moet deur gekwalifiseerde personeel uitgevoer word. Verskeie gevalle waar installasies nie behoorlik gedoen is nie en skade tot gevolg gehad het, is alreeds aangemeld.
15.2 Die lewensverwagting van elektriese en elektroniese toerusting kan beïnvloed word deur die ondeurdagte aan- en afskakel van sodanige toerusting. Natuurlik het beurtkrag dieselfde uitwerking op sodanige toerusting. Indien die toerusting nie beskadig word deur ‘n skielike en onverwagte opspoorbare
oorsaak nie, sal geen dekking van toepassing wees nie. Enige meganiese, elektriese of elektroniese breekskade is spesifiek uitgesluit tensy dit die gevolg van ‘n versekerde gevaar is.